Dis seker een van die lekkerste oproepe wat mens kan ontvang wanneer ‘n baie bekende televisie program soos Pasella jou kontak. Dit was deur die loop van die laas week Woensdag dat Mart-Marie van Pasella my bel en vertel dat hulle ‘n program vir Pasella kom skiet in Cullinan. Hulle het ons webwerf besoek gesien wat ons doen en wil graag Oak House se klein lokaal gebruik vir hulle partytjie vir die gaste van die program.

Natuurlik laat mens nie so geleentheid deur jou vingers glip nie, en ek was dadelik aan boord. Verder tot hierdie groot geleentheid vra hulle toe of Oak House dan kan dien as hulle “kuier huis” en dat ek asb vir hulle die tafel dekor moet behartig, asook ‘n “diy” projek aanbied. Dit raak net beter hoe langer sy gesels.

My gedagtes het dadelik begin rond hardloop en ek het besluit om ‘n paar verskillende elemente te kombineer om ‘n eenvoudige tog elegante tafel te dek, wat Oak House asook die tema van Pasella en Cullinan verteenwoordig.

Ek hou daarvan om kreatief te wees en dus goedjies self te maak, ek het origami blomme gevou, dit gekombineer met klomp verskillende groottes bottels, wat gespry is met twee skakerings van goud, ‘n geel goud en ‘n roos goud. Handgemaakte houtbokse asook ronde hout skywe breek die vreeslike formele gevoel van die tafel en laat mens onthou hoe eenvoudig die mense in die vroee 1900’s geleef het, die graaf agter die groot origami roos verteenwoordig Cullinan myn en die bekende diamante wat al hier uitgehaal is.

Proteas is maar net ‘n ongelooflike blom, wanneer ek ‘n protea sien skep dit altyd ‘n koningklike gevoel by my asof jy ‘n persoon van status moet wees om van ‘n protea gebruik te maak, wel ek het besluit om proteas te bruik om ‘n diep, warm kleurskakering te vorm. Diep rooi en pers komplimenteer die goue bottels perfek, dus ‘n perfekte kombinasie vir die tema: Glansryk

Daar is natuurlik ook niks wat atmosfeer kan skep soos kerslig nie, daarom het ek ‘n hele paar kerse, in verskillende groottes, tussen die blomme en hout bakke geplaas sodat die lig deurlopend is op die tafel, ‘n goeie kershouer is ‘n absolute moet op enige tafel om sodoende jou tafeldoek en loper te beskerm. Weereens het ek bestaande elemente gebruik en so effens opgedollie met ‘n blikkie spry verf, die bruin origami kersblakers rond die tafel perfek af.

DIY is tans so ‘n huishoudelike woord, en al hoe meer mense raak geintereseerd om hul eie kreatiewe items te maak, daarom het ek aan die Pasella span gewys hoe om die origami elemente op die gedekte tafel te vou, die blomme kan natuurlik op verskeie maniere gebruik word, soos blomme rangskikkings, tafel dekor, opmaak van geskenk pakkies, muur dekor en vele meer.

Dit was ‘n wonderlike voorreg en ervaring om hierdie glansryke tafel en diy pojek aan te pak saam met Pasella.

Hou gerus Oak House se website en facebook blad dop vir gereelde nuus en interessante gebeure. tot volgende keer,

Carien